Ek skryf hierdie artikel na aanleiding van ‘n onlangse rubriek in Rapport deur Mnr. Dawie Klopper, ‘n beleggingsekonoom by PSG, wat handel oor “die her*****us van jou loopbaan of selfs aftreebeplanning” vir diegene in die ouderdomsgroepe van 40 tot 60. Geskoei op die idees in die boeke Halftime en Finishing Welldeur Bob Buford stel Mnr. Klopper voor dat bogemelde ouderdomskategoriee by die halfpadmerk van hul lewens moet herbesin oor wat in die tweede helfte van hul lewens moet gebeur aangesien die tweede helfte eerder gaan oor “betekenis”.
Ten einde te verseker jy eindig goed word voorgestel dat “jy dalk terwyl jy jou bestaande beroep beoefen, solank met ‘n tweede beroep begin en jou voorberei om van die een na die ander te skuif”, asook om met “‘n nuwe plan, ‘n nuwe doelwit en dalk ‘n aktiewe poging om liggaamlik en verstandelik fiks te bly” vorendag te kom.
Die skrywer slaan die spyker op die kop, aangesien bogemelde groep deesdae bloot net nie meer in die tradisionele sin aftree en op die stoep gaan sit op 65 nie. Hulle lewensvuur brand nog sterk en hul ervaring is van onskatbare waarde. Hulle keuses is dus om steeds in konsulterende hoedanighede op te tree; hulle word weer “studente” en bekom doktors grade; hulle word entrepreneurs en bestee ook meer tyd en geld aan filantropisme, aangesien dit vir hulle betekenisvol is.
Die vraag is egter hoe dit prakties gaan uitspeel aangesien die individu wat gaan sit en duidelik sy korttermyn- en langtermyn lewensdoelwitte verwoord en daarby hou, so skaars is soos hoendertande. Veral ook omdat die individu nie sy eie situasie objektief kan oorweeg nie en is verder teenoor niemand verantwoordbaar om op koers te bly nie.
Werk verskaf nie bloot ‘n inkomstestroom nie, maar is ook ‘n bron van jou sosiale lewe, selfbeeld of status in die gemeenskap, verskaf daaglikse struktuur, asook ‘n gevoel van waardering. Inaggenome dat die twee grootste bekommernisse voor aftrede gesondheid en finansies is, maar na aftrede egter vervreemding en laastens finansies is, is dit nodig om hierdie subjektiewe aspek in fynere besonderhede aan te spreek, as om bloot net met ‘n “nuwe doelwit” vorendag te kom.
Die oplossing le daarin dat die individu in die oorgangsproses begelei deur ‘n professionele adviseur wat as vennoot, gids en opvoeder optree om sy finansies en lewensdoelwitte te amalgameer. Die individu sal dus bygestaan word deur lewensdoelwitte daar te stel, ‘n finansiele strategie wat daardie doelwitte ondersteun te ontwerp, asook om die finansiele en sielkundige impak van alledaagse lewensoorgange soos loopbaan verwisselings, aftrede en egskeidings te hanteer. Sodoende word daar weg beweeg van blote transaksie-denke na oorgangs-denke. Hierdie kliënt-gesentreerde, leefstyl-benadering sal die individu die nodige ondersteuning bied ten einde betekenis, vervulling en ‘n nalatenskap in die tweede helfte van sy lewe te bekom. Dit spreek vanself dat die individu se geld slegs waarde dra indien dit sy lewensdoelwitte en drome ondersteun en dus in ooreenstemming met sy unieke waardes aangewend word.
Die goeie nuus is dat jy nie aan jou eie lot oorgelaat is met sulke groot lewensbesluite as gevolg van ‘n onkundigheid of blote gejaagdheid nie. Spandeer die nodige tyd en doen ondersoek na ‘n adviseur wat in jou belangstel deur die regte vrae te vra, noukeurig luister, kreatiewe oplossings bied en waarmee jy in die algemeen vertroud voel. Jou lewensdrome gekoppel met finansiele gemoedsrus, is definitief binne bereik.
In die komende weke sal ek die aspek van professionele “coaching”, hetsy besigheids-, lewenstyl- of finansieel, en die oorkoepelende impak daarvan in die finansiele dienste sektor belig.